Psalmen 124
124
'n Bedevaartslied. Van Dawid. As die HERE nie vir ons was nie- laat Israel dit sê-
2
as die HERE nie vir ons was toe die mense teen ons opgestaan het nie,
3
dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle toorn teen ons ontvlam het;
4
dan het die waters ons oorstroom, 'n stroom het oor ons siel gegaan;
5
dan het die trotse waters oor ons siel gegaan.
6
Geloofd sy die HERE wat ons aan hulle tande nie as buit oorgegee het nie!
7
Ons siel het vrygeraak soos 'n voël uit die vangnet van die voëlvangers; die vangnet is gebreek, en ons, ons het vrygeraak.
8
Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.