Psalmen 29

29

'n Psalm van Dawid. Gee aan die HERE, o hemelinge, gee aan die HERE eer en sterkte!

2

Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad!

3

Die stem van die HERE is op die waters, die God van eer donder; die HERE is op die groot waters.

4

Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid.

5

Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Líbanon;

6

en Hy laat hulle opspring soos 'n kalf, die Líbanon en Sirjon soos 'n jong buffel.

7

Die stem van die HERE slaan daar vuurvlamme uit.

8

Die stem van die HERE laat die woestyn bewe; die HERE laat die woestyn van Kades bewe.

9

Die stem van die HERE laat die takbokke lam en maak die bosse kaal; maar in sy paleis sê elkeen: Heerlikheid!

10

Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid.

11

Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede.