Psaumes 51
Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid,
toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.
Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.
Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.
Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.
Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.
Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees.
Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.
Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.
Dan sal U 'n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.