Salmos 149
149
Halleluja! Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
2
Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning!
3
Laat hulle sy Naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter.
4
Want die HERE het 'n welbehae in sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil.
5
Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde.
6
Lofverheffinge van God is in hulle keel, en 'n tweesnydende swaard in hulle hand;
7
om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke;
8
om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie;
9
om 'n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. 'n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!