Salmos 129

129

'n Bedevaartslied. Alreeds te veel het hulle my as vyand behandel van my jeug af- laat Israel dit sê-

2

alreeds te veel het hulle my as vyand behandel van my jeug af; tog het hulle my nie oorwin nie.

3

Ploeërs het op my rug geploeg; hulle het hul vore lank getrek.

4

Die HERE is regverdig: Hy het die toue van die goddelose afgekap.

5

Laat hulle beskaamd staan en agteruitwyk, almal wat Sion haat.

6

Laat hulle word soos gras op die dakke wat verdor voordat 'n mens dit uittrek,

7

waarmee die maaier sy hand en die gerwebinder sy arm nie vul nie.

8

Sodat die wat verbygaan, nie sê nie: Die seën van die HERE oor julle! Ons seën julle in die Naam van die HERE.